Cape Home Educators

 

 

Ontwikkelinge in die onderwys van 1994 tot nou

Inleiding

Voor 1994 was tuisonderwys onwettig in Suid-Afrika. Diegene wat tuisonderwys gegee het, is vervolg. As reaksie op die vervolgingvan verskeie tuisskoolgesinne, is die Vereniging vir Tuisonderwys in 1992 gestig. André en Bokkie Meintjies is in 1994 in die tronk gesit omdat hulle hul kinders self wou onderrig. Hul kinders is in 'n weeshuis geplaas. As gevolg van ’n internasionale protesveldtog waaraan die Vereniging vir Tuisonderwys ook deelgeneem het, is die Meintjies gesin weer vrygelaat.

Sedert 1994 het die nuwe bedeling met ’n transformasie van die hele onderwysstelsel begin. Vanjaar beplan die minister van onderwys om nog ’n belangrike bousteen van hierdie transformasie finaal in wetgewing vas te lê.

Van die belangrikste boustene van hierdie transformasie is die volgende:
1. Die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996
2. Die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring van 2002
3. Die regulasies vir die administrasie van die matriek eksamen van 2008

Die SA Skolewet reël die medium waardeur leerders onderrig word, naamlik staatskole, privaat skole wat by die staat geregistreer is en tuisonderwys. Alhoewel die staat privaat skole en tuisonderwys toelaat, beteken dit nie dat die staat positief is oor hierdie mediums nie. In 2001 maak die minister van onderwys, dr. Kader Asmal die volgende uitspraak: “No. I've always believed in a unitary school system, like the German system, but the Constitution says there will be private schools so I have no problem with them. There are many private schools with a Cambridge examination which I have problems with. It's based entirely on an English syllabus, and we're trying to create a South African school system with values that are truly South African.”

Duitsland, vir wie se “unitary school system” die minister so ‘n groot bewondering het, is tans in die publieke oog weens die intensiewe vervolging van tuisskolers wat daar plaasvind.

Die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring reël die inhoud wat aan leerders onderrig moet word, naamlik kennis en vaardighede wat deur die staat voorgeskryf is, asook waardes wat deur die staat bepaal is. Die belangrike verandering wat hier gemaak is, is die groter klem op die onderrig van waardes terwyl daar minder klem op kennis en vaardighede geplaas word.

Die beoogde regulasies vir die matriek eksamen reël hoe leerders ge-assesseer word, naamlik deur ’n proses van deurlopende evaluering, in teenstelling met die vorige eenmalige eksamen.

Gemeenskaplik aan al hierdie boustene is die intense beheer wat die staat hierdeur oor die onderwys verkry. Die staat bepaal waar leerders onderrig word, waarin hulle onderrig word en hoe hulle ge-assesseer word. Om seker te maak dat die skole die wense van die staat uitvoer, word skoolbesture en onderwysers ook belas met ’n groot aantal rapporterings- en moniterings pligte.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet

Hierdie wet reël die onderrig van leerders in Suid-Afrika. Volgens hierdie wet word kinders verplig om ’n skool by te woon van die jaar dat die kind 7 jaar oud word, tot die einde van die jaar waarin die kind 15 jaar oud word. As ’n kind van hierdie ouderdom nie ’n skool bywoon nie, rus die onus op die staat om die situasie te ondersoek en die ouers skriftelik in kennis te stel dat hulle kind skoolpligtig is. As die ouers wat so ’n brief ontvang het, sonder geldige redes, nie aan die versoek van die staat voldoen nie, kan daardie ouers skuldig bevind word aan ’n misdryf.

Tydens die opstelling van hierdie wet het die SA regering geweier om daarin voorsiening te maak vir tuisonderwys. Daarom het die Vereniging vir Tuisonderwys ’n veldtog geloods om druk op die regering te plaas om voorsiening te maak vir tuisonderwys. Hierdie veldtog is ook ondersteun deur tuisskolers in die VSA, wat via die Suid-Afrikaanse ambassades in die VSA ook druk op die Suid-Afrikaanse regering uitgeoefen het. Omdat die Suid-Afrikaanse regering toe nog sensitief was vir druk van die buiteland, is daar toe in art. 51 van die wet voorsiening gemaak vir tuisonderwys.

Sedert die invoering van hierdie wet het privaat skole en tuisonderwys baie gegroei. Van ’n uiters klein basis het dit teen 2003 gegroei tot 3.2% van die leerders in privaat skole. Die groei van tuisonderwys is moeilik om te meet, aangesien die meeste tuisskolers nie registreer nie. In die tyd het daar ook mikro skole ontstaan. Die meeste van hierdie skole is egter te klein om te registreer as privaatskole.

Die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring

Vyf jaar later, in 2001 het die minister van onderwys, dr. Kader Asmal, ‘n Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring vrygestel vir kommentaar. Die Kurrikulumverklaring is ’n uitvloeisel van die Handves oor Waardes, Onderwys en Demokrasie, waarin tien sg. fundamentele waardes van die grondwet verduidelik word. Een van die belangrikste doelwitte van die Kurrikulumverklaring is om jong Suid-Afrikaners te verplig om hierdie waardes te internaliseer. Die oorsig van die Kurrikulumverklaring stel dit soos volg : “Die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring is daarop gerig om hierdie waardes te weerspieël in die kennis en vaardighede wat dit bevorder.” In ’n toespraak op 7 November 2001 stel die minister dit nog duideliker: “Our campaign to reinsert values into education is a multi-faceted initiative. In the first place we want to make it part of the formal curriculum, so that learners will develop tolerance and understanding through all that they learn. The draft revised National Curriculum Statement has asserted this element even more strongly than in the former outcomes,...”

Uit die wyse waarop die minister die Kurrikulumverklaring ingevoer het, was dit duidelik dat die minister nie wou hê dat die algemene publiek bewus moes wees van die Kurrikulumverklaring nie. Daar is te min kopieë na skole gestuur om onderwysers in staat te stel om die dokument te bestudeer, om nie eens van ouers te praat nie. Die publiek is minder as twee maande gegee om kommentaar te lewer op ’n dokument van 1400 bladsye.

Die Pestalozzi Trust het destyds ’n veldtog geloods teen die Kurrikulum. Hierdie veldtog is wyd ondersteun deur skole, kerke en politieke partye. Die veldtog het die instelling van die kurrikulumverklaring met ses maande vertraag. Gedurende hierdie tyd is die dokument feitlik heeltemal oorgeskryf en sekere van die blatantste stukke propaganda is verwyder. Die hele program om die multigeloof in die kurrikulum af te dwing is daaruit verwyder, en het ‘n jaar later as ‘n afsonderlike beleidsdokument verskyn, wat juridies veel makliker tersyde gestel kan word wanneer dit nodig word.

Die belangrikste is egter dat die publiek en die media weldeeglik bewus geword het van die owerheid se verborge doelwitte met die onderwys. Die naïewe vertroue wat groot dele van die publiek tot in daardie stadium in die onderwysowerheid gehad het, is vervang deur ‘n meer realistiese en versigtige benadering en sedertdien word die handelinge van die onderwysowerheid uit alle rigtings met valkoë dopgehou.

Ongelukkig is daar in tuisskoolkringe kwaadwillige gerugte versprei dat die Pestalozzi Trust net probeer om mense “bang te maak”. Dit het amper die einde van die Trust beteken, omdat sy ledetal drasties gedaal het.

Die regulasies vir die administrasie van die matriek eksamen van 2008

Intussen het weer vyf jaar verbygegaan. Die nuwe minister van onderwys, me. Naledi Pandor was baie minder prominent in die publieke oog. Die staatskole het die nuwe kurrikulum stelselmatig ingevoer. Christelike privaat skole het die kurrikulum ook aanvaar, aangesien hulle meen dat hulle nog steeds hulle Christelike waardes kon oordra binne die raamwerk van die Nasionale Kurrikulumverklaring, behalwe wanneer die leerders moet voorberei vir die matriek eksamen. Tuisskolers het voortgegaan met hulle tuis onderwys asof niks verander het nie.

Gaandeweg het die gevolge van die nuwe kurrikulum egter duideliker geword. Aangesien die kurrikulum ’n kleiner klem lê op die onderrig van kennis en vaardighede en omdat onderwysers weens die groot las van monitering en rapportering min tyd het vir eintlike onderrig, het daar heelwat minder van die onderrig van kennis en vaardigheid plaasgevind. Dit word allerweë beskou as een van die bydraende faktore waarom daar tans ’n knellende tekort aan vaardighede in Suid-Afrika is, en dat dit net erger word. Tot so ’n mate dat immigrasie vereistes verander is om dit makliker te maak om vaardighede van die buiteland in te voer.

Aan die einde van Mei 2008 word beoogde regulasies vir die administrasie van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS), of beter bekend as matriek eksamen, in die staatskoerant gepubliseer. Die publiek word minder as ’n maand gegee om te reageer op hierdie uiters tegniese dokument van 200 bladsye.

Die belangrikste regulasies wat hierin voorkom is die volgende:
1. Die finale matriekpunt bestaan uit twee komponente. Die eerste komponent tel 25%, en is die finale punte van die interne (“skoolgebaseerde”) assessering vir graad 10, 11 en 12. Die tweede komponent tel 75% en is die punt vir die matriek eksamen.
2. ’n Leerder wat wil registreer vir die graad 12 eksamen, moet geregistreer wees as ’n voltydse leerder by ’n geregistreerde staatskool of privaat skool vir graad 10 tot 12.
3. Die interne assessering word gereguleer deur ’n meganisme wat deur die staat ingestel is.
4. Die interne assessering van die leerarea Lewensoriëntering word ekstern gemodereer.

Die implikasies van hierdie regulasies is vêrreikend.
1. Leerders wat tuisonderwys ontvang, kan nie ’n Suid-Afrikaanse matriek eksamen skryf, tensy hulle vanaf graad 10 voltydse leerders is by ’n geregistreerde skool nie.
2. Privaatskole kan nie meer hulle eie waardes aan leerders onderrig binne die raamwerk van die Nasionale Kurrikulumverklaring nie, aangesien die leerarea waardeur die meeste waardes onderrig word, naamlik Lewensoriëntering, ekstern gemodereer word.
3. Volwassenes wat nie ’n matriek verwerf het nie, kan nie meer ’n matriek verwerf deur buitemuurse kursusse nie.

Hierdie beoogde regulasies moet gelees word in samehang met die nuwe regulasie oor toelating tot tersiêre inrigtings, wat in Maart 2008 gepromulgeer is. Volgens hierdie regulasie is die NSS (of “ekwivalent”) die minimum toelatingsvereiste om toegang te kry vir tersiêre sertifikaat- diploma- of graadstudies aan Suid-Afrikaanse instellings. Inrigtings kan addisionele toelatingsvereistes instel, maar leerders kan nie toegelaat word sonder ’n NSS nie. Hierdie regulasie tree in 2009 in werking.

Die implikasie hiervan is, soos die Pestalozzi Trust reeds sedert 2002 aangetoon het, dat tuisleerders nie toegang kan kry tot tersiêre inrigtings, sonder dat hulle vanaf graad 10 voltyds studeer aan ’n geregistreerde skool nie. Tuisskolers het ook aan ’n breë front begin agterkom dat die Pestalozzi Trust nie net besig was met bangmaakstories nie, en die steun vir die Trust het oor die afgelope jaar baie sterk toegeneem.

Die pad vorentoe

As die laaste boublok van die onderwysstelsel suksesvol geïmplementeer kan word, maak dit tuisonderwys ’n onaantreklike opsie vir ouers, aangesien tuisleerders hierdeur nie meer toegang tot tersiêre instellings kan kry nie.

Die invoering van die Nasionale Kurrikulumverklaring asook die beoogde regulasies oor die Nasionale Senior Sertifikaat en die regulasies rondom die minimum toelatingsvereistes vir tersiêre instellings is egter almal in stryd met die grondwet. As wette of regulasies in stryd is met die grondwet, dan is hierdie wette en regulasies ongeldig. Die grondwet stel dit soos volg: “This Constitution is the supreme law of the Republic; law or conduct inconsistent with it is invalid, and the obligations imposed by it must be fulfilled.” Om kinders se reg op onderwys en die vryheid van ouers om hulle kinders volgens hulle waardes te onderrig te behou, moet die howe verklaar dat hierdie ongrondwetlike wette en regulasies nie wetlik bindend is nie. Om die howe so vêr te kry om hierdie uitsprake te maak, beteken dat ’n hele reeks hofsake aanhangig gemaak sal moet word teen die minister van onderwys en haar departement. Hierdie hofsake gaan jare neem en miljoene rande kos.

Hierdie reeks hofsake het reeds in aanvang geneem. In Augustus 2007 het die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO), in samewerking met partye soos die Pestalozzi Trust, ’n hofsaak teen die minister van onderwys ingedien waarin die hof gevra word om the verklaar dat die Hersiene Nasionale Kurrikulumstelling (HNK) en die Nasionale Beleid betreffende Godsdiens en Onderwys regtens nie bindend is nie.

Die Pestalozzi Trust beplan reeds vir ‘n reeks sulke hofsake oor die volgende tien jaar, en begroot meer as twintig miljoen rand daarvoor.

Die Internet skep ook geleenthede vir tuisleerders om tersiêre kwalifikasies te verwerf by instansies wat nie onder die beheer van die minister van onderwys is nie. Om hierdie geleentheid te ontgin, werk organisasies soos Impak Onderwys, die Pestalozzi Trust en ander saam aan die stigting van ’n afstandonderrig universiteit wat tersiêre onderwys aanbied in Afrikaans en Engels, gebaseer op Christelike beginsels. Hierdie universiteit se naam is ICHON (Instituut vir Christelike Hoër Onderwys). Hierdie universiteit gaan kwalifikasies aanbied wat in Suid-Afrika en in die Europese Unie erken word. Meer inligting kan gevind word by www.ichon.co.za

Onlangs is daar ’n sakekamer vir Tuisleer Diensverskaffers en Aanverwante Belangegroepe en Organisasies gestig. Hierdie sakekamer beywer hom vir die bevordering van gemeenskaplike belange van tuisleer diensverskaffers. Een van hierdie belange is die erkenning van hierdie verskaffers se kwalifikasies vir toelating tot tersiêre inrigtings.

Die Vereniging vir Tuisonderwys, asook verenigings in die Wes-Kaap en die Oos-Kaap verteenwoordig die tuisskool gemeenskap en bevorder die belange van ouers wat tuisonderwys gee deur te skakel met die owerheid en met die media.

Die Vereniging vir Tuisonderwys (VTO) bevorder nie slegs tuisonderwys in Suid-Afrika nie, maar ook in ander lande. Op die oomblik is daar ’n hewige vervolging van tuisskolers in Duitsland – die land met die “eenvormige” onderwysstelsel wat deur ons onderwysminister voorgehou word as die ideale stelsel. Die VTO probeer die publiek bewus te maak van die situasie deur ’n spesiale webtuiste www.bremen-memorial.org en deur briewe te rig aan die Duitse ambassade en ander instansies. Dit is belangrik om tuisskolers in die buiteland te ondersteun, aangesien ouers in Suid-Afrika hulle vryheid te danke het aan die tuisskolers in die VSA wat druk uitgeoefen het op die Suid-Afrikaanse regering in 1996. As Suid-Afrikaanse ouers die tuisskolers in ander lande ondersteun, kan hulle ook op hulle steun reken as hulle hul dalk weer nodig het.

Ouers vir wie dit belangrik is dat daar vryheid moet wees om tuisonderwys te gee in Suid-Afrika, kan die volgende dinge doen:
1. Bly op hoogte van ontwikkelinge deur aan te sluit by die tuisonderwys poslys op Yahoogroups. Sluit aan deur ’n epos te stuur aan tuisonderwys-subscribe@yahoogroups.com

2. Ondersteun die Pestalozzi Trust. Hierdie organisasie verskaf nie slegs regsbeskerming aan individuele lede nie, maar bevorder ook die belange van alle tuisskolers deur betrokke te wees by hofsake wat die belange van alle tuisskolers bevorder en deur die tuisskool gemeenskap deurlopend op hoogte te hou van belangrike verwikkelinge. Hulle kan bereik word by www.pestalozzi.org

3. Sluit aan by die verenigings en ondersteun hulle veldtogte om die belange van tuisskolers te bevorder deur skakeling met die owerheid en die media. Die webtuistes van die verenigings is www.tuisskolers.org , www.capehomeed.org.za , www.echsa.za.org

4. Bid vir die owerheid, dat hulle tot die insig sal kom dat die opvoeding van kinders die verantwoordelikheid van ouers is en sodat ons rustig en in vrede kan lewe.

Dis veral die tuisskoolvaders wat by hierdie dinge betrokke moet wees, omdat dit juis die verantwoordelikheid van die vader is om ’n veilige omgewing te skep waarbinne die moeder kan besig wees met tuisonderwys.